Groot blok letters,
Die reuseletters wat Afrikaans uitspel is nou te sien by die Afrikaanse Taalmonument tot Sondag (11 Mei). Foto: Chantélle Hartebeest

Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader, staan nader.

Maak ’n plan of dala wat jy moet. Kom tiekie en riel, klink ’n glasie en sê tjeers en tjorts, want vandag (8 Mei) word daar groot partytjie gehou wanneer die mooiste taal eeufees vier.

Ja, Afrikaans is amptelik ’n honderd jaar oud en álmal is genooi.

Jou Afrikaans klink dalk nie soos my Afrikaans nie, maar een ding is seker: Afrikaans is ons almal s’n.

Afrikaans is reeds baie ouer as ’n honderd jaar, maar dit was op 8 Mei 1925 toe Afrikaans amptelik, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het.

Afrikaans se voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap.

Vir een van die jongste tale in die wêreld het Afrikaans gewys dat dit ook een van die mees dinamiese tale is wat steeds groei – nie net in woordeskat nie, maar ook in die hoeveelheid mense wat dit praat.

Geskiedenis van Afrikaans

Die Grondwet van 1909 het bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land sou wees, maar die nuwe Grondwet in 1925 het Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en is dit, naas Engels, as amptelike taal erken.

Dit is volgens ‘n verklaring deur Afrikaans 100 se webtuiste.

In Suid-Afrika se Grondwet van 1996 het Afrikaans steeds die status as amptelike taal behou, maar hierdie keer is nege van die land se ander tale ook saam met Afrikaans en Engels ingesluit.

Afrikaans is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land – naas isiZulu (24,4%) en isiXhosa (16,3%) – met meer as 6,5 miljoen, oftewel 10,6% moedertaalsprekers in die land.Afrikaans het natuurlik van toeka tot nou verskeie takke gegroei en Standaardafrikaans is beslis nie die enigste taal wat gepraat of waarin daar geskep word nie.

Van die beginjare se eerste Afrikaans tot Oranjerivierafrikaans, Kaapse Afrikaans en Noordelike Afrikaans.

As Afrikaans ’n huis was, was daar verskeie kamers.

Die Afrikaans Amptelik 100-feesjaar skop op 8 Mei 2024 af en kotiljons tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word.

’n Jaar se plesierigheid, ghoema en rieldans.

’n Jaar van gesprekke, deelname en skeppings om die taal te vier. Almal is genooi.Jy, jy én jy. Maak nie saak in watter kamer jou Afrikaans woon nie, solank jou hart vir die mooiste, wondersoetste taal klop.Awê. Dis dan dit. Net soe. Laat ons jol!

Die feesvieringe rondom Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal in Suid-Afrika het hierdie week afgeskop in die Paarl.

Afrikaans is vandag (8 Mei) 100 jaar gelede as ‘n amptelike taal in die land erken.

Afrikaans100 se lettertoer

Ter viering van die mylpaal het die Solidariteit Beweging reuseletters wat Afrikaans uitspel kunstig versier, op ‘n vragmotor gelaai en vanuit Pretoria gereis tot in die Paarl.

“Ons wou graag, as ‘n organisasie wat in die noorde van die land is, deel wees van die feesvieringe in die Suide,” verduidelik Carien Bloem, hoof van onderwysprojekte by AfriForum en projekleier van die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer.

“Ons het nie geweet hoe ons dit gaan doen nie, maar ons wou ietsie doen wat visueel aantreklik is en mooi en sigbaar is – wat vir mense kan wys wat alles al gedoen is en gedoen word in Afrikaans vanuit die noorde van die land. Dis toe dat ons besluit het om die reuse letters te maak. Daar was agt verskillende instellings binne die Solidariteit beweging wat elkeen ‘n letter gekry het, asook die Afrikaans Amptelik 100 se oorsigkomitee. Hulle het toe elkeen hulle kreatiwiteit ingespan en met illustrasies en woorde alles uitgebeeld wat hulle doen.

“Dit is nou ‘n gesamentlike poging uit die solidaariteit beweging, maar ek het met die idee vorendag gekom en dit toe voorgestel. Ek was baie dankbaar dat almal ingestem het dat ons dit wel doen en dit het nou toe so gebeur dat ek die projek vandaar af verder gekoördineer het.”

Die instellings sluit in AfriForum, Solidariteit, Maroela Media, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Sol-Tech, Akademia, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Helpende Hand.

Verlede week het die Afrikaans Amptelik 100 span saam met die reuseletters in die pad geval en 1400km afgelê. Met hul reis na die Afrikaanse Taalmonument het hulle ‘n paar stoppe gehad – Kroonstad, Bloemfontein, oornag in Gariep en toe Beaufort-Wes en Laingsburg. Die span was ongeveer 16 ure op die pad.

“Die rede hiervoor is dat ons kon nie baie vinnig ry met die vragmotor nie en dit was by tye senutergend, want mens is altyd bang ietsie gebeur soos ‘n letter val dalk om of skuif rond. Ons is regtigwaar baie dankbaar en geseënd dat ons veilig hier aangekom het en dat letters nog in een stuk is,” sê Bloem.

“Dit was vir ons baie lekker om die plaaslike gemeenskappe te sien [waar ons gestop het] wat vir ons kom ondersteun het en foto’s geneem het en verjaarsdagboodskappe gebring het. Om net te sien hoe opgewonde almal is oor ons taal Afrikaans was lekker om van te getuig. Die reuse letters staan nou hier by die Afrikaanse Taalmonument en hulle is nou gereed om saam fees te vier. So, die feesvierings begin nou 8 Mei en dan is hier 10 Mei ‘n lekker groot makietie by die Taalmonument. Mense is welkom om deurentyd na die letters te kom kyk en foto’s te neem saam met dit. Dit gaan hier staan tot 11 Mei en die volgende dag word dit weer terug vervoer na Pretoria toe vir die feesvieringe in die noorde.”

Mense word genooi om foto’s te kom neem met die reuseletters en hul foto’s op sosiale media te deel voordat dit weer in die pad val terug na Pretoria.

You need to be Logged In to leave a comment.