Die Paarliet Sonya van Schalkwyk-Barrois hou die Afrikaanse taal hoog in Parys, Frankryk.


Die eerste formele Afrikaans- beginnerskursus in Parys begin eersdaags by die Nederlandse taal- en kultuuronderrigsentrum in die hartjie van die Franse hoofstad. Dis ’n opwindende deurbraak vir die Afrikaanse taal, en ’n gulde geleentheid om ’n nuwe gehoor te bereik en bande met die Nederlandse gemeenskap in Frankryk te versterk.

Die gedagte het ongeveer vyf maande gelede ontstaan toe die Paarl-gebore en oudleerder van La Rochelle Hoër Meisieskool Sonya van Schalkwyk-Barrois, die vertaler van Asterix en Kuifie in Afrikaans, aan ’n literêre vertalingswerksessie by die Nederlandse sentrum deelgeneem het, en met die hoof van die sentrum, Ed Hanssen, aan die gesels geraak het oor Afrikaans. Ed het daarna aan my geskryf en gevra of ek moontlik ’n beginnerskursus onder hul vaandel sou wou aanbied. Natuurlik het ek dadelik ja gesê! Afrikaans word reeds suksesvol gedoseer in ander Europese lande, byvoorbeeld Pole, dus hoekom nie ook in Frankryk, een van ons voorsate se stamlande nie?

Die Nederlandse sentrum, kortweg bekend as NCNL (vir Nouveau centre néerlandais oftewel “nuwe Nederlandse sentrum”) word gehuisves in ’n lokaal wat deur die Nederlandse ambassade in Parys beskikbaar gestel word, binne die Atelier Néerlandais, “een platvorm voor Nederlands ontwerp, de kunsten en het boek” wat in 2014 deur die ambassade opgerig is en gefinansier word. Dis in ’n pragtige ou gebou in Rue de Lille – een van die mees prestigeryke buurte van Parys, ’n hanetree van die parlementsgebou (die Assemblée nationale), en in dieselfde straat as die Duitse ambassadeurswoning, met die Musée d’Orsay-kunsmuseum net ’n entjie verder. Benewens Nederlandse taalkursusse en eksamens op alle vlakke bied die sentrum ook kulturele aktiwiteite aan, soos die uiters gewilde maandelikse kunsgeskiedenislesing voor ’n volgepakte gehoor (gevolg deur ’n vriendskaplike “borrel”), ’n kwartaallikse “literêre kaffee” op ’n Sondagoggend waar ’n Nederlandse boek bespreek word, stimulerende literêre vertalingswerksessies en dies meer. En om dit nog mooier en lekkerder te maak, is die pragtige vertrekke ’n uitstalruimte vir wisselende tentoonstellings van Nederlandse kunstenaars en ontwerpers.

Die eerste beginnerskursus in Afrikaans begin op 24 November en sal agt weke duur. Aangesien dit die eerste keer is dat so iets hier aangebied word, stel ek spesiaal ’n handleiding en lesmateriaal op wat op Franssprekende leerders gerig is. Dis gemik op mense “wat byvoorbeeld familie- of werksbande met Suid-Afrika het, studente wat van voorneme is om in die land te gaan studeer, reisigers wat deur Suid-Afrika getrek word, en enigeen wat graag hierdie Germaanse taal uit Afrika wil leer praat of wat die ooreenkomste en verskille met ander Germaanse tale, en in die besonder Nederlands, wil ontdek,” aldus Ed Hanssen. “Afrikaans en hedendaagse Nederlands is sustertale,” verduidelik hy op die sentrum se webwerf, “twee dogters van dieselfde moeder – Nederlands van die 17de eeu! Die Nouveau centre néerlandais is verheug om hiermee nog ’n skakel tussen die twee tale te bewerkstellig en om, deur Afrikaans, ’n groter gebied van ‘Nederlandstaligheid’ oor die wêreld heen te dek.”

Dis ’n wonderlike geleentheid en erkenning vir ons Afrikaanse taal, en ons / Sonya hoop dat dit die begin van ’n lang pad saam sal wees!

Want, nes die Nederlandse taalkursusse by die sentrum, bied dit ook ’n kans om mense met ’n stukkie van die land se stories, musiek, letterkunde en kultuur te laat kennis maak. En, wie weet, dalk sing hulle nog aanstaande jaar saam as die Springbokke hul wêreldbeker hier in Frankryk kom verdedig!

Skakel na die webwerf: https://ncnl.eu/cours-dafrikaans/ . A Paarlite, Sonya van Schalkwyk-Barrois, is heading up an Afrikaans academy in Paris, France.

You need to be Logged In to leave a comment.