Daar was ‘n verskeidenheid lekkernye om van te kies. Hier geniet Cee-Jay Hartebeest-Louw ‘n heerlike boba-sjokolade drankie. Foto: Chantélle Hartebeest

Die feesvieringe om Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal te gedenk, is die afgelope naweek by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl afgesluit.

Suid-Afrikaners oor die land heen het vanjaar die mylpaal van Afrikaans met verskeie saamtrekke gevier.

Vroeër vanjaar het die Solidariteit-beweging reuseletters wat Afrikaans uitspel, kunstig versier, op ‘n vragmotor gelaai en uit Pretoria tot in die Paarl ter viering van dié mylpaal gereis.

Julinda en Allique van Stade van die Paarl saam met hul seuntjie Allique Jnr en dogtertjie Junay. Chantélle Hartebeest

Carien Bloem, die hoof van onderwysprojekte by AfriForum en projekleier van die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer, het destyds aan Paarl Post gesê hulle wou graag as ‘n organisasie wat in die noorde van die land is, deel van die feesvieringe in die suide wees.

“Ons het nie geweet hoe ons dit gaan doen nie, maar ons wou iets doen wat visueel aantreklik en mooi en sigbaar is – en wat aan mense kan wys wat alles al in Afrikaans in die noorde van die land gedoen is en gedoen word. Dis toe ons besluit het om die reuseletters te maak. Agt verskillende instellings binne die Solidariteit-beweging het elkeen ‘n letter gekry, asook die Afrikaans Amptelik 100 se oorsigkomitee. Hulle het toe elkeen hulle kreatiwiteit ingespan en met illustrasies en woorde alles uitgebeeld wat hulle doen.”

Dit het 16 uur en 1 400 km geverg om die reuseletters van Pretoria tot by die Afrikaanse Taalmonument te vervoer.

Die Uitsig-rieldansers van Kaapstad het gesorg vir lekker vermaak. Foto: Chantélle Hartebeest

Met die afgelope naweek se Afrikaans 100- Feesmark en Makietie het feesgangers die trotse taal jolig saam gevier. Mense het van ver en naby gekom om hulself en hul taal te geniet. Die vieringe het iets vir almal ingesluit – van lekker Afrikaanse musiek tot die rieldansers wat die stof laat staan en feesgangers elke ritme geniet het.

Die reuk van heerlike kosgeregte wat beskikbaar was, het ook tot die lekker feesatmosfeer bygedra. Dit het heerlike kerriegeregte, natuurlik sappige biltong, selfs brandrissiebeet, roomys en die gewilde boba-drankies waaroor die jongspan mal is, ingesluit. Verskeie stalletjies het ook die kinders se aandag getrek, wat daartoe gelei het dat mamma en pappa moes “uithaal”.

Die Afrikaans 100-feesvieringe het wel nou tot ‘n einde gekom, maar dis veilig om te sê dat die taal in die murg en been van Suid-Afrikaners verder voortleef.

Norman Williams, Heather Williams en Mellenick Andries van Eersterivier het die lekker vermaak geniet. Foto: Chantélle Hartebeest

You need to be Logged In to leave a comment.