Met dekades en dekades se ondervinding, toewyding en onafhanklikheid betree drie sangers die verhoog vir die heel eerste Afrikaans in Styl, elkeen met sy eie konsert-binne-’n-konsert; elkeen met ’n skatkis van sy eie materiaal, omring van die land se beste musikante.
Stef Bos, Karen Zoid en Nataniël bring hul wêrelde saam in twee unieke vertonings. Bekend of onbekend, gevestig of eksperimenteel, byna-klassiek of splinternuut – alle pole word verken. Ná ure se gesprekke deel hulle temas, oortuigings en verskille. So eerlik soos altyd, uitsonderlik-persoonlike oomblikke, klein verrassings, groot note en lang stories.
Onder die musikale leiding van Charl du Plessis word die kollig gedeel met Juan Oosthuizen (kitaar), Henry Steel (kitaar), Brendan Ross (klawers en stem), Werner Spies (bas), Rixi Roman (bas), Peter Auret (tromme), Marlon Green (tromme), ’n strykorkes, die sangers Nicolaas Swart en Dihan Slabbert en ’n paar geheel en al onverwagse onoortreflike stemme en gesigte.
Die besondere, nuutgestigte Voces Cordis-koor onder leiding van André van der Merwe maak ’n baie spesiale en spesifieke verskyning.
Die konsert word Saterdag 3 September in Kaapstad by die Grand Arena, GrandWest, aangebied en begin om 19:00.
Bespreek by www.seatme.co.za.





