Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Foto: Argief

Vyftig jaar ná sy inwyding staan die Afrikaanse Taalmonument (ATM) steeds as ‘n kragtige simbool van Afrikaans se groei, veerkragtigheid en diversiteit. Die instelling vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar, wat met die 100ste verjaarsdag van Afrikaans as amptelike taal saamval.

Volgens Michael Jonas, ‘n direkteur van die ATM, beklemtoon die viering die instelling se rol oor vyf dekades in die bewaring, bevordering en viering van Afrikaans in al sy vorme.

“Ons mandaat is om te versamel, te dokumenteer, na te vors, uit te stal en inligting te versprei,” sê hy.

‘n Monument met diep wortels

Die monument, geleë teen die hange van Paarlberg, is op 10 Oktober 1975 ingewy. Dit is deur die argitek Jan van Wijk ontwerp en deur die maatskappy Murray & Stewart van Kaapstad saam met Holtzhausen en Hugo, bouers van die Paarl, opgerig.

Bouwerk is tussen 1972 en 1974 teen ‘n koste van R718 058,97 voltooi.

Die idee vir ‘n monument ter ere van Afrikaans het reeds in die 1940’s ontstaan toe ‘n groep taalaktiviste begin het om geld in te samel. Van Wijk het in sy boek, wat in 2014 gepubliseer is, oor die monument geskryf dat die droom eers in die 1960’s vlerke gekry het toe besluit is om met bouwerk voort te gaan.

Volgens die ATM se webtuiste simboliseer die monument die ontstaan van Afrikaans uit drie vastelande – Europa, Asië en Afrika. Die hoë suile verteenwoordig die Europese invloed, die muur stel die bydrae van Indonesiese tale soos Maleis voor, en die koepels beeld die toenemende invloed van Afrika-tale, soos Khoikhoi, Xhosa, Zoeloe en Sesotho, uit.

“NP van Wyk Louw het Afrikaans as ‘n brug tussen Europa en Afrika beskryf,” lui die webtuiste.

Hierdie metafoor word weerspieël in die monument se kurwes, wat in ‘n simboliese brug saamvloei.

Van verdeeldheid na samehorigheid

Jonas erken dat die monument se geskiedenis nie sonder omstredenheid is nie.

“In 1975 is dit deur baie as ‘n simbool van wit Afrikanernasionalisme gesien,” verduidelik hy. “Vandag is dit egter ‘n unieke ontmoetingspunt – ‘n kontaksone – waar brûe tussen Afrikaanssprekendes en ander gemeenskappe gebou word. Dit is deel van ‘n groter proses van herstel en versoening wat landwyd plaasvind.”

Inklusiewe benadering tot Afrikaans

Jonas sê die ATM se visie is om ‘n dinamiese en inklusiewe instelling te wees wat die taal-diversiteit van Afrikaans in ‘n multikulturele konteks bevorder.

“Deur diversiteit te vier en erkenning te gee aan Afrikaans se verskeie wortels, bevorder ons Afrikaans as ‘n taal wat aan almal behoort. Ons beweeg doelbewus weg van ‘n historiese narratief van verdeling,” verduidelik hy.

Die jaarlikse Afrikadag-viering dien as voorbeeld van hierdie benadering.

“Ons streef na wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale en erken die invloed wat hierdie tale oor en weer op mekaar gehad het,” voeg hy by.

Jonas sê die ATM se navorsingsprojekte fokus dikwels op transformasie.

“Ons navorsingsprojekte fokus dikwels op transformasie – soos die Noord-Kaapse mondelingegeskiedenisprojek en die storie van die ambagsmanne wat die monument gebou het. Deur sulke projekte poog ons om histories gemarginaliseerde Afrikaanse weergawes te ontsluit,” verduidelik hy.

Die Leesprojek is daarop gemik om ‘n leeskultuur onder jongmense te bevorder deur leesmateriaal beskikbaar te stel – moontlik gemaak deur skenkings en geldwerwing deur musiekkonserte.

“Om groter toegang tot ons terrein en dienste te verseker, stel ons jaarliks 16 busse gratis aan minderbevoorregte groepe en skole beskikbaar,” sê Jonas.

Ander hoogtepunte sluit in die Groen Galery, die digitalisering van museumversamelings uit die eerste en tweede taalbeweging, en die Arabies-Afrikaans-uitstalling.

Die pad vorentoe

“Ons beplan om gehaltebestuurstelsels in te stel, doeltreffende dienslewering te verbeter en die ATM as een van die land se toonaangewende kulturele landskappe te posisioneer,” sê Jonas oor planne vir die volgende 50 jaar.

Toekomstige projekte sluit die groei en digitalisering van museumversamelings, opgradering van bestaande uitstallings en die gebruik van tegnologie soos virtuele toere en aanlyn kaartjieverkope in. Jonas sê die instelling fokus ook op volhoubare toerisme, plaaslike samewerking en omgewingsvriendelike praktyke ten einde sy koolstofvoetspoor te verminder.

• Die ATM het ‘n stampvol feesprogram om hierdie halfeeu te vier. Besoek die ATM se webtuiste hier vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.