Dink, praat en leer in Afrikaans was die tema van die Afrikaanse Taalraad (ATR) se jeugberaad wat onlangs by Hoërskool Stellenbosch aangebied is. Die beraad was daarop gemik om trots op Afrikaans onder jongmense te laat opvlam.
Verskeie organisasies wat help om Afrikaans te beskerm en te bevorder was by die onvergeetlike geleentheid betrokke.
Toppresteerders in Afrikaans as huistaal, van New Orleans Sekondêr in Paarl-Oos en ander skole dwarsoor die Boland, het die beraad bygewoon.
Dit het op ’n hoë noot begin met dr. Conrad Steenkamp van die ATR wat eerste aan die woord was. Hy het vertel van die kokerboom as simbool vir Afrikaans en die belangrikheid van die wortels.
Dr. Willa Boezak het op sy beurt die jongmense in die gehoor gaande gehad oor die insiggewende onderwerp van identiteit – iets waaroor baie jongmense vandag verward is.
“Jou taal is deel van jou, deel van jou menswees, deel van jou identiteit, deel van siel, hart, kultuur en erfenis. Om jou taal in ’n boks te druk, is net so goed as om ’n gedeelte van jou menswees of siel of ’n stuk van jou prys te gee! Jy is te bang om Afrikaans te praat omdat dit anders klink.
“Jy verruil jou taal vir Engels, veral ons studente, dan klink daardie Engels nie eens lekker nie.”
Dr. Boezak het die entoesiastiese jongmense aangemoedig om hul taal vrylik te praat.
“Praat jou Nama-Afrikaans, praat jou Afrikaaps, praat jou Ofrikaans, want dit is deel van jou, dit is deel van jou identiteit!
“Hulle sê my taal is te plat, maar wie’s hulle?”
Die aanlyn-platform Afrikaans.com het drie video’s vervaardig om spesifieke stereotiepes in die taal uit te wys en op ’n humoristiese manier diversiteit in Afrikaans te beskerm en die uniekheid en mooiheid daarvan te verken, te erken en vrylik te versprei. Dié video’s is reeds gewild in sosiale media.
Op ’n ernstiger noot het Fiona van Kerwel die gehoor aan die dink gesit oor die toekoms. Van Kerwel, wat by die Universiteit Stellenbosch se WOW-projek (Woorde Open Wêrelde) betrokke is, het ’n bietjie gesels oor loopbaankeuses en studiemoontlikhede. Die fokuspunte was beroepe en die invloed van die vierde industriële revolusie daarop.
Nog ’n punt wat sy sterk uitgelig het, was die verskil tussen ’n loopbaan en ’n werk.
“Jou werk is wat jy nou doen. Jou loopbaan is wat verspreid voor jou lê, wat jy nog moet uitkerf en verken.”
Een van die belangrikste gesprekke van die dag het daarna gevolg met ’n baie roerende praatjie deur Charledine van der Merwe.
Sy is ’n projekbestuurder by die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV.
“Kinders tussen nul en ses jaar oud moet vir die ouer baie belangrik wees, want dis in hierdie tyd dat die kind goed begin ontwikkel.”
Volgens Van der Merwe is dit kritiek belangrik dat kinders in hierdie ouderdomsgroep blootgestel word aan boeke en lees. En natuurlik moet dit ’n lekker boek wees wat interessant sal wees vir die kind.
Van der Merwe noem dat formele leer by lees begin.
“Maak gebruik van die vier L’e: Luister, Lees, Leer, Lekker.”
Charledine het dit duidelik gemaak dat leerders slegs goed kan presteer wanneer hulle in die vroeë jare van kindwees aan boeke blootgestel word. . William Sezoe is ’n graad 12-leerder aan die New Orleans Sekondêr Skool.