Die Suid-Afrikaners het die afgelope Sondag in die Netwerk24 Paarl-fietstoer tweede viool gespeel teen Afrika se voorste jaers, met Etiopië se Kiya Rogora wat eerste oor die wenstreep gejaag het, gevolg deur Eritrea se Yoel Ghebregersish.
Hanro Geldenhuys was derde, Johan Trotzky vierde en Luke Moir vyfde.
Die Afrika-paar het ná 105 km se aggressiewe jaagwerk 1,2 km voor die eindstreep in die hartjie van die Paarl van die bondel af weggebreek.
Die 18-jarige Rogora, wat aanstaande jaar by die Education First-beroepspan in Europa aansluit, het gemaklik gewen in ’n tyd van 2 uur 34 minute en 59 sekondes.
Daar word ’n blink toekoms vir Rogora voorspel, sowel as vir Ghebregersish, wat nog maar 17 jaar oud is en as ’n junior deelneem.
Die voormalige wêreldbyeenkoms-medaljewenner vir Suid-Afrika, JP van Zyl, rig die twee Afrika-jaers af.
“Hulle is deel van die Wêreldfietsryliggaam, die UCI, se ontwikkelingsgroep in Afrika,” sê Van Zyl.
“Daar is ’n groot fokus om Afrika se jaers voor te berei vir die Wêreldpadbyeenkoms wat in 2025 in Rwanda plaasvind. Die Afrika-kontinent het baie talent en dis wonderlik om ’n rol te kan speel in hierdie jong manne se lewe.”
In die vroue-wedren het Anika Visser koningin gekraai met Jessica Fuller tweede en Danica Botes derde.
Die bekende internasionale fietsrykommentator Phil Liggett (MBE) was een van die eregaste by die wedren, sowel as die voormalige Springbok-rugbyspeler Breyton Paulse.
Paulse het self ook aan die 105 km-wedren deelgeneem.


