’n Oud-Wellingtonner, Louis Broodryk, en sy vrou, Kareen, gaan aan die einde van Junie hul kantoordeure toetrek, in hul bakkie klim en so ver moontlik deur Afrika toer. In die proses wil hulle ook op hul manier liefdadigheidswerk langs die pad doen.
Louis het op Wellington grootgeword en is ’n oudleerder van Hugenote Hoërskool. Sy pa, dr. Maritz Broodryk, was jare lank ’n geskiedenisdosent in die dorp, en sy ma, Yvonne, was matrone van Navarre-koshuis. Kareen is oorspronklik van Ceres.
Die twee woon in Groenpunt en is in 2003 in die Paarl getroud. Teen daardie tyd was Louis reeds in ’n rolstoel nadat hy met ’n instandhoudingsprojek deur ’n plafon geval het.
Hulle gaan hul reise deur foto’s en video’s op internetmedia soos Facebook, YouTube en Polarstep dokumenteer. Hul “Fearless on Four Wheels”-inisiatief strek al van 2014 toe hulle op ’n reis na Zambië en Malawi die eerste keer begin het om ’n elektroniese reisjoernaal te hou.
“Ek’t op die naam besluit omdat Louis dikwels so vreesloos op sy rolstoel beweeg terwyl almal rondom hom brieke aandraai,” lag Kareen, wat die versigtiger een van die twee is. “Dieselfde geld die roetes en reise wat Louis vir ons uitkies. Hy glo mos geen vrees is te groot om te oorkom nie!”
Hulle hoop hul reise sal ander mense met fisieke gestremdhede aanspoor. “Mense hoef nie terug te staan en toe te laat dat die lewe verby hulle gaan nie,” reken Kareen.
Saam het hulle al die afgelope paar jaar na die uithoeke van Suid-Afrika en die aardbol gereis – van Addo in die Oos-Kaap tot die Kgalagadi, van rugsakreise na Machu Picchu, die Pampas en Bolivië tot skubaduik in Zanzibar en sonsverduisterings in Australië en Japan.
“Toer was nog altyd in my bloed,” vertel Louis, wat kleintyd saam met sy gesin in hul Valiant regdeur Suid-Afrika gereis het – soms ook vir sy pa se navorsing. Dr. Broodryk was onder meer die skrywer van die Geskiedenis in Perspektief-reeks wat destyds vir laerskole voorgeskryf is.
Louis en Kareen se eie uitgebreide toer begin 1 Julie vanjaar met ’n draai deur bekende dele van Suid-Afrika, Botswana en die noorde van Namibië. Wanneer hulle die Angolese grens oorsteek, sal hulle begin om hul neuse te volg.
Hul aangepaste 2010-Toyota Hilux 3.0 D4D genaamd “Ufudu” (wat skilpad beteken) staan reg vir die reis.
Benewens die noodsaaklike byvoeging van watertenks, sonkragpanele en ekstra batterye, bykomende pakplek en ’n geprakseerde water- en stortstelsel, moes hulle ook die voertuig vir Louis se gebruik aanpas. Die bakkie het ’n handkontrolestelsel sodat hy self kan bestuur. Sy rolstoel sit buite aan die bestuurderskant in ’n aluminiumkis.
“Oral op die bakkie is ekstra handvatsels gemonteer sodat Louis maklik aan die voertuig kan vashou en hom kan stut wanneer ons dinge in- en uitlaai, en wanneer hy my help om ons daktent op te slaan,” sê Kareen.
Vir die Broodryks gaan dit oor meer as net die luukse om vir ’n jaar sonder enige werksdruk te kan rondtoer.
“Ons hoop om by plaaslike mense te kan bly sodat ons die plaaslike kultuur kan leer ken,” vertel Louis.
“Ons wil egter ook liefdadigheidswerk doen. Jy kan dit sien as ’n soort ruiltransaksie, want ons leer altyd iets nuuts in elke land of kultuur wat ons besoek.”
Hulle samel tans geld in om herbruikbare sanitêre doekies aan skoolmeisies op hul roete te kan verskaf. Die doekies word van wasbare materiaal gemaak, en kan weer en weer gebruik word. Hulle koop dit by ’n niewinsgewende organisasie, Subz Pads, wat ’n soortgelyke projek onder die naam “Project Dignity” bedryf.
Hulle vat ook ’n projektortjie saam waarop hulle films oor herwinningsprojekte wil wys. ’n Klein kleurdrukker word ook ingepak sodat hulle vir mense die foto’s kan uitdruk wat hulle van hulle neem.
Andersins gaan hulle rommel optel waar hulle ook al reis.
Die Broodryks beplan om heelwat foto’s en video’s op Facebook, die roete-app Polarstep en YouTube te laai.
Soek net vir “Fearless on Four Wheels”.
Belangstellendes kan hul geldinsamelingspogings ondersteun deur ’n toervideo op www.patreon.com of by www.backabuddy.co.za te borg.