‘n Drywer van ‘n Coca-Cola afleweringsvragmotor is Donderdag (23 Oktober) aangeval in Franschhoek. Foto: Franschhoek First Responders

Die bestuurder van ‘n Coca-Cola-afleweringsvragmotor is Donderdag (23 Oktober) beseer toe hy in Groendal, Franschhoek aangeval is.

Volgens Kurt Maske, ‘n plaaslike paramedikus, het die insident omstreeks 17:00 in Skoolstraat gebeur.

Maske sê hy het op die toneel verneem dat soortgelyke aanvalle op hierdie afleweringsvragmotor gereeld plaasvind, veral op Dinsdae en Donderdae.

“Hierdie ouens steel van die vragmotor af. So, gister (23 Oktober) het drie mans, soos wat ek verstaan, goedere van die vragmotor af probeer steel. Die bestuurder het toe probeer ingegryp. Hulle het hom toe in sy arm gesteek.

“Ek is ontbied om mediese hulp aan die drywer te verleen, waarna hy met ‘n privaat voertuig hospitaal toe geneem is. Volgens omstanders op die toneel is die drie mans in Groendal daarvoor bekend dat hulle mense steek.”

Paarl Post het navraag by die Franschoek-polisie gedoen. Sers Muriel Sitzer, ‘n woordvoerder vir dié polisiekantoor, het in haar terugvoering gesê: “Daar is een saak geopen, maar dit het Dinsdag (21 Oktober) plaasgevind. Daar is geen rekord dat daar Donderdag (23 Oktober) ‘n klagte geopen is nie. Die Franschhoek-polisie dra ook nie kennis dat afleweringsvragmotors van Coca-Cola voordurend deur misdadigers in die Groendal-gebied geteiken word nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.