Natuurliefhebbers en gereelde wandelaars in Paarlberg is bekommerd oor die toestand van die berg se hange, waar massiewe hoeveelhede afgesaagde bome, droë takke en stompe agtergelaat is. Dit skep nie net ’n uitdagende stapomgewing nie, maar hou ook ’n potensiële brandgevaar vir Paarl en die omliggende natuur in.
’n Jare lange bergliefhebber vertel hoe hy as jonger pa en natuurliefhebber maklik met sy kinders tot bo in Paarlberg kon stap. Tydens ’n onlangse besoek het hy egter besef hoe moeilik die berg deesdae begaanbaar is. Ná vier uur se stoei deur diep lae houtreste kon hy slegs 50 m vorder voordat hy moes omdraai. Die afgekapte bome en takke lê so dik dat dit ’n “kruitvat” vorm wat met een vonk ’n groot brandgevaar vir die hele dorp, besoekers en die berg se natuurlewe kan inhou.
Eda Barnard, ’n woordvoerder vir die Drakenstein-munisipaliteit, het verduidelik dat die verwydering van indringerplante en uitheemse plantegroei deel is van hul omgewingsbestuurswerk. Die fokus is tans op die digte konsentrasies indringerbome aan die noordelike en suidelike hange van Paarlberg, spesifiek langs die Jan Phillips-bergpad.
Barnard erken dat die steil en rotsagtige terreine hierdie werk bemoeilik, en dit kan langer neem om die afgesaagde bome te verwyder.
Die Drakenstein-munisipaliteit het egter planne om brandstroke binne die komende weke te herstel en só die gevaar van brande te verminder. Verdere stappe sluit in die skeiding van takke en die verwydering van enige nuwe indringerplante wat opkom.
Plaaslike inwoners stel voor dat verskeie rolspelers by ’n projek hieroor betrek word om die hout op te ruim, wat dan teen bekostigbare pryse aan die gemeenskap verkoop kan word. Hierdie voorstel bied ’n geleentheid om werk te skep, brandgevaar te verminder en ’n nuttige bron van vuurmaakhout beskikbaar te stel – ’n wen-wen vir die gemeenskap en die natuur.
Nog ’n kommerwekkende probleem is die onwettige afkap van olienhoutbome, wat plaaslik as vuurmaakhout verkoop word. Omgewingswetstoepassers en Green Rangers van die munisipaliteit sal hierdie gebiede deurlopend monitor om oortreders vas te vat en boetes op te lê.
Die gemeenskap hoop dat hierdie samewerking en ingryping die nodige oplossings sal bring om Paarlberg veiliger en meer toeganklik vir almal te maak, terwyl die natuurlike skoonheid en biodiversiteit van die berg bewaar word.