Andru van Zyl
Andru van Zyl (18). Foto: Verskaf

Andru van Zyl, ’n 18-jarige van Polokwane en oudhoofseun aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), het ’n merkwaardige reis van ongeveer 2 800 km in sy matriekvakansie aangepak toe hy met sy pa se ou bergfiets tot in Kaapstad gery het om geld vir die Childhood Cancer Foundation South Africa (Choc) in te samel. Hy het op pad ook in die Paarl by Meadow Feeds gestop, wat vir hom ‘n middagete geborg het.

Volgens Van Zyl het die idee by hom opgekom nadat hy die kindersaal van die onkologie-afdeling in ‘n hospitaal besoek het, waar sy vriend chemoterapie ontvang het. Volgens hom het hy en ‘n groep ander leerders sy vriend in die hospitaal bygestaan en die ander kinders en tieners wat ook in die saal teen kanker veg, het sy hartsnare geroer.

Hy het dus dié reis aangepak vir sy vriend wat steeds teen die kanker stry, maar ook vir die ander minderjariges by wie kanker gediagnoseer is, en hul families wat hulle moet bystaan. Volgens hom gaan dit onder die omstandighede goed met sy vriend, maar is hy nog nie in remissie nie.

Van Zyl het verlede jaar by Affies in Pretoria gematrikuleer, waar hy in die koshuis was, en vanjaar begin hy sy universiteitsloopbaan aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) as mediese student.

Andru van Zyl
Andru van Zyl in sy “koei-pakkie”. Foto: Verskaf

Hy het ongeveer R650 000 vir Choc ingesamel deur bewusmaking op sosiale media oor sy finansieringsprojek te skep . Hy het ook ‘n praatjie aan die gr.-8-klas van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal oor sy geldinsamelingsprojek en bewusmaking van kanker onder die jeug gelewer.

Volgens Choc se webtuiste is dit ‘n nasionale organisasie sonder winsoogmerk met kantore in ses streke, wat gratis dienste aan minderjarige kankerpasiënte en diegende met lewensbedreigende bloedafwykings bied.

Van hierdie dienste sluit in emosionele ondersteuning aan pasiënte en hul families asook praktiese ondersteuning in die vorm van verblyf naby behandelingsentrums, vervoer na en van behandelingsentrums, ondersteuningsgroepe, interaktiewe leerprogramme asook voedingsondersteuning.

Van Zyl het verduidelik dat hy sowat 80km per dag in sy “koei-pakkie” afgelê en die reis voltooi het deur meestal die stiller agterpaaie, wat grondpaaie insluit, te gebruik – saam met ‘n ondersteuningsvoertuig asook ander fietsryers wat hom af en toe vergesel het.

LEES OOK: Manne in Speedo’s kry spoed vir ‘n goeie doel

Volgens hom het hy geen beserings opgedoen en ook geen meganiese uitdagings met sy fiets ervaar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article