ACVV Wellington dien gemeenskap met trots

Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging, of ACVV kortliks, is ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat op 1 September 120 jaar oud was en steeds Suid-Afrika se minderjariges en bejaardes met die hulp van bekwame maatskaplike werkers daagliks bystaan


Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging, of ACVV kortliks, is ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat op 1 September 120 jaar oud was en steeds Suid-Afrika se minderjariges en bejaardes met die hulp van bekwame maatskaplike werkers daagliks bystaan.

Wellington se tak is geen uitsondering nie en dien die dorp reeds sedert 1904, toe die organisasie in Desember van daardie jaar met slegs 50 lede gestig is.

Sedertdien het die ACVV Wellington homself in die gemeenskap geïntegreer waar hy tans oor drie vertakkings beskik, naamlik die Silwerkruin-ouetehuis, die dienssentrum vir pensioentrekkers en bejaardes, asook die ACVV se maatskaplike-dienste-afdeling wat hoofsaaklik na die welstand van minderjariges omsien en wat in terme van wetgewing onder andere en primêr ’n kinderbeskermingsfunksie het.

Die hoofdoel van die Wellington ACVV is om “altyd daar te wees vir die gemeenskap”, en ’n “knoppie te wees waarop die publiek kan druk”.

Die ACVV is volgens sy webtuiste destyds in Kaapstad gestig deur ’n groep vroue wat hulp wou bied aan vroue en kinders wat deur die Anglo-Boereoorlog geraak is.

Sedertdien het die organisasie, wat apolities is, jaar op jaar gegroei, met meer as 20 takke in die Wes-Kaap alleen en meer as 100 landwyd.

Links is die Wellington ACVV se drie maatskaplike werkers saam met Potpourri (ACVV se tweedehandse winkel) se twee winkelbestuurders. Regs agter staan ’n getroue vrywilliger tussen die winkelbestuurders. Foto: Verskaf

’n Paar interessante feite van die ACVV is dat dit destyds slegs op vroue gemik was, maar dat dié mandaat in 1907 hersien is en mans as lede verwelkom is vir vyf sjielings, oftewel 50 sent per jaar, teenoor vroue se ses pennies (sestig sent) per jaar.

In 1917 het die ACVV die eerste tehuis vir bejaardes in Riebeeck-Wes geopen en in 1920 is ’n huishoudskool vir meisies uit moeilike huislike omstandighede in Blouvlei gestig.

Diensvertakkings

Die eerste vertakking wat die ACVV Wellington met trots bestuur, is die bekroonde Silwerkruin-ouetehuis waar hy seker maak dat inwoners in waardigheid leef en hul winterjare as ’n sinvolle seisoen ervaar.

Die tweede afdeling is die dienssentrum waaraan pensioentrekkers en bejaardes vir ’n minimale fooi kan behoort en ondersteuning geniet om so lank as moontlik in hul eie wonings en onafhanklik te bly.

Hier word hulle op prettige uitstappies geneem waar hulle blootgestel word aan verskeie aktiwiteite, soos byvoorbeeld daguitstappies na Kaapstad of na die teater, voetbehandelings ontvang, gehoortoetse doen of kaartspeel.

Die maatskaplike-dienste-afdeling is Wellington ACVV se derde vertakking met twee gekwalifiseerde maatskaplike werkers en ’n hulp- maatskaplike werker.

Hierdie vertakking verseker dat die beskerming van minderjariges nagekom word met die maatskaplike werkers wat gereelde besoeke aflê by ouerhuise waar huislike omstandighede ondersoek moet word en in terme van die Wet op Kindersorg opgetree word.

Indien minderjariges uit hul ouerhuise verwyder moet word, word die minderjariges in pleegsorg geplaas, afwagtend op aanneming.

Hulle word dan gereeld deur die maatskaplike werkers besoek en bygestaan, of op herstel met hul ouerhuise van oorsprong herenig.

Volgens die ACVV Wellington se jongste statistiek is die grootste uitdagings wat in Wellington ervaar word, gedragsprobleme en skoolverwaarlosing onder minderjariges, asook seksuele en emosionele verwaarlosing.

Die gebiede wat ACVV Wellington dek, sluit in Wellington-Oos en -Noord, Berg-en-Dal, Uitsig, Bovlei, Blouvlei, Bainskloof, Ranzadale, asook Stokeryweg.

Enige hulp wat van buite hierdie gebiede ontbied word, val onder ’n ander jurisdiksie van welsynsorganisasies soos Badisa, Kindersorg of die departement van maatskaplike ontwikkeling

Volgens die Wellington-kantoor is dit belangrik om daarop te let dat die professionele werker nooit iemand sal wegwys nie, maar eerder sal help om in aanraking te kom met die korrekte ACVV-tak of ’n ander organisasie mits dienste verlang word wat die ACVV nie verskaf nie.

Die pad vorentoe

Die ACVV Wellington streef altyd na vooruitgang, dus kan Wellingtonners uitsien na ’n paar opwindende toevoegings tot die kantoor se groeiende lys dienste.

’n Noodlyn sal eersdaags geskep word waar noodgevalle – veral gespits op minderjariges oor die Kerstyd – aangemeld kan word.

Voorkomingsprogramme is ook in die pyplyn waar die ACVV-kantoor se maatskaplike werkers hul aandag sal spits op die blywende voorkoming van tienerswangerskappe asook verslawing.

“Die ACVV Wellington staan hierdie feestyd weer gereed vir minderjariges,” sê die tak.

Nóg opwindende nuus is dat die Wellingtonse ACVV-kantoor volgende jaar na ’n nuwe perseel by die NG kerk-saal in Van Riebeeckstraat en langs die Martha-saal sal verskuif.

  • Die kantoor se jaarvergadering vind op 9 Desember by Silwerkruin Ouetehuis in Fonteinstraat plaas en almal is welkom om onder meer na die finansiële en jaarverslae te kom luister.

Alle verslae, insluitend finansieel, sal vir redes van deursigtigheid aan die publiek beskikbaar wees.

Die Wellington ACVV wil graag alle rolspelers wat oor die jare met hulle hande vat hartlik bedank.

Hierdie ondersteuning en bystand, hetsy dit finansiële of in materiële skenkings is, verseker ongetwyfeld die voortbestaan van die tak.

Die kantoorure is: Maandae tot Donderdae: 08:00 tot 16:30 en Vrydae: 08:00 tot 16:00. Totdat ’n noodlyn in werking gestel is, moet die Wellington-polisie by 021 864 8472 geskakel word vir enige aanmeldings ná ure.

  • Skakel 021 873 2204 of stuur e-pos na well.admin@acvv.org.za vir navrae en meer inligting.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.