Die Wellington ACVV-tak het onlangs ’n vrouetee aangebied by die Hexenberg- onthaalsentrum waar ’n bekende Wellingtonner, Ria Retief, vereer is vir haar onbaatsugtige diens aan die ACVV.
Retief (Malan) is ’n boorling van Wellington en het grootgeword op die destydse Malanplaas, Welbedacht (wat vandag aan Schalk Burger en Seuns behoort). Sy is in Oos-Londen as kraamsuster opgelei, waar ’n goue medalje aan haar toegeken is vir die beste prestasie in kraamverpleging in die land.
Sy het later teruggekeer na Wellington waar sy getroud is met Hennie Retief van die plaas Hexenberg. Die funksie is juis so gereël dat dit kon plaasvind op die plaas waar sy vir soveel jare gewoon het. Sy en Hennie het vyf kinders gehad, waarvan drie by die geleentheid teenwoordig kon wees.
Op die plaas het sy haar passie vir kraamverpleging uitgeleef deur haar eie kraamsaal daar in te rig. Die laaste bevalling wat sy behartig het, was die geboorte van Jannie Bosman van Lelienfontein en Bosman Wingerde. Hierna is haar privaat kraamsaal gesluit.
Retief is ’n omgee-mens wat vir baie jare lank verbonde was aan die ACVV, waar sy 23 jaar as voorsitter gedien het. Sy het baie hard gewerk en, soos sy self sê, sy het tot vloere gewas.
Sy word beskryf as ’n stil mens en het sonder fanfare haar afgesloof vir haar medemens, veral ook by die destydse Dorkashuis (vandag Huis Lizelle). Die Dorkashuis het te klein geword en Retief het gedien in die boukommissie vir die bou van ’n nuwe tehuis vir bejaardes, naamlik Silwerkruin. Vandag is sy die enigste oorlewende lid van daardie boukommissie.
Die huidige voorsitter, dr. Elna von Schlicht, het namens die ACVV ’n oorkonde aan Retief oorhandig. Die ACVV Wellington het daarmee lewenslange erelidmaatskap aan haar toegeken.