Stephen Korabie, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, ontvang Vrydag (12 April) die aartappels saam met organisasies soos die Drakenstein-sakekamer, Paarl Doenit en die Heart NPO. Foto: Rasaad Adams


Aartappelboere van Christiana in Noordwes het verlede week hul harte oopgemaak aan inwoners in storm-geteisterde gebiede in onder meer Drakenstein, Stellenbosch, Helderberg en Kaapstad toe ’n vrag van meer as 30 ton aartappels in die provinsie afgelewer is.

Dié aartappels is na verskeie voedingskemas, sopkombuise en ander liefdadigheidsorganisasies versprei, in gebiede waar inwoners dakloos gelaat is weens die verwoestende stormweer van Sondag 7 April.

Die Drakenstein-munisipaliteit is een van die gebiede wat die hardste deur die storm getref is.

In Smartietown in Paarl-Oos is 77 mense dakloos gelaat toe ’n strukturele brand in Candicestraat uitgebreek het. Sewe huise en ’n aantal informele strukture is in puin gelê.

Stephen Korabie, die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, het Vrydag (12 April) die skenking saam met organisasies soos die Drakenstein-sakekamer, Paarl Doenit en die Heart NPO in die Paarl ontvang.

Laurichia van Niekerk, die portefeuljehouer vir beplanning, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het aan Paarl Post gesê die Gauteng gebaseerde organisasie, We Are South Africans, het gehelp om die skenking aan die provinsie moontlik te maak.

“Hulle het aanvanklik uitgereik na ons plaaslike sakekamer weens die skade wat veroorsaak is tydens die onlangse storm. Drakenstein het ’n donasie van sowat 6,6 ton ontvang. Dit is 220 sakke wat elk ongeveer 30 kg weeg.

“Die organisasies hier betrokke werk daagliks met honderde mense in ons gemeenskappe en daarom het hulle die donasies ontvang en sal dan verseker dat dit by voedingskemas en sopkombuise uitkom.”

Sy sê Drakenstein-munisipaliteit bestuur op sy eie 13 sopkombuise wat ook van die aartappels voorsien sal word.

Van Niekerk het namens die uitvoerende burgemeester se kantoor ook sy dank aan die organiseerders en boere betuig.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se uitvoerende burgemeester, het Vrydag in ’n video ook sy dank aan die boere uitgespreek.

“Dit gaan ’n groot verskil maak en ek wil net baie dankie sê aan ons aartappelboere – en ons boere. Ek is so dankbaar vir Suid-Afrika se boere wat altyd vrygewig is en altyd die versoek vir hulp beantwoord sonder enige huiwering.

“Ek wil ook dankie sê aan die People of SA Trust, wat vir die vervoer van die aartappels tot in Kaapstad betaal het. Ons is vanoggend (Vrydagoggend) alreeds besig om die donasies uit te deel om seker te maak dat die mense wat dit die nodigste het, dit ontvang. Mag julle goeie reën en ’n goeie oes kry.”

You need to be Logged In to leave a comment.