Die komeet Tsuchinshan-Atlas soos op 13 Oktober in Italië gesien. Foto: Argief


Die C/2023 A3-komeet, ook bekend as die Tsuchinshan-Atlas sal eersdaags deur Suid-Afrikaners vir ’n laaste keer aanskou kan word voordat dit ons sonnestelsel verlaat.

Komeet-jagters kan tot 20 Oktober op die uitkyk wees vir dié komeet, wat op hierdie datum op sy beste gesien kan word.

“Die komeet sal met die blote oog in ’n westelike rigting sigbaar wees van nagenoeg ’n uur en 25 minute ná sonsondergang tot net langer as twee uur nadat die son gesak het,” luidens ’n aanlyn berig deur Netwerk24.

Volgens die berig is hierdie datum die laaste keer wat die komeet gesien sal word, omdat dit verby die aardbol sal beweeg, moontlik na ’n ander sonnestelsel.

“Die komeet is in 2023 deur die Asteroid Terrestrial-Impact Last Alert System-teleskoop (Atlas) in Sutherland en die Purple Mountain-sterrewag, bekend as Tsuchinshan, in Sjina ontdek,” volgens Netwerk24.

Tsuchinshan-Atlas skyn duidelik in Sjina se hemelruim op 15 Oktober. Foto: Argief

Die naam, Tsuchinshan-Atlas, is dus ’n woordspeling tussen die Suid-Afrikaanse Atlas-teleskoop en die Tsuchinshan in Sjina.

“Die komeet verskyn as ’n vae, langwerpige voorwerp met ’n stert wat onderskeibaar is van sterre omdat dit nie flikker nie,” luidens Netwerk24.

Die berig verduidelik dat die komeet ontstaan het vanuit die Oortwolk, “’n verre gebied van ysige liggame wat die sonnestelsel omring”.

Die bestudering van die Tsuchinshan-Atlas bied waardevolle inligting aan wetenskaplikes oor die vroeë sonnestelsel, aangesien dit oermateriaal bevat.

“Die komeet se koma, of kop, is ongeveer 130 000 myl (209 000 km) in deursnee, met ‘n stert wat 18 myl (29 km) strek. Die komeet sal eers na verwagting oor 80 000 jaar terugkeer na ons sonnestelsel,” luidens ’n berig deur The Guardian.

You need to be Logged In to leave a comment.