Mense kan nou ’n afspraak by 163 kantore van die departement van binnelandse sake maak om wagtye te verkort wanneer hulle fisiek om ’n identiteitsdokument of paspoort aansoek doen.
Senior amptenare van die departement het verlede week in ’n voorlegging oor “die oorlog teen lang rye” aan LP’s gesê die aanlyn afspraakstelsel sal gou by sy gemoderniseerde kantore beskikbaar wees.
Thulani Mavuso, adjunk-direkteur-generaal van institusionele beplanning en ondersteuning, sê meer as 200 000 kliënte het die afspraakstelsel sedert 1 Junie gebruik en die terugvoering op sosiale media is baie positief.
“Kantore soos Centurion en Randburg kry 95 afsprake per dag, so dit beteken ons kom êrens.”
Mavuso het in die sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê die departement werk ook aan ’n afspraakstelsel vir die afhaal van dokumente.
Mense mag soos in die verlede ook net opdaag. Wat die planne betref om die departement se dienste op groot skaal na takke van banke uit te brei, gaan dit nie so goed nie. Die departement sê in sy voorlegging sedert 2016 is die dienste as deel van ’n aanvoorprojek by 27 takke beskikbaar en dit is nou tot Maart 2023 verleng.
Een rede waarom uitbreiding sloer, is glo omdat banke vrees hul reputasie kan skade aangedoen word omdat die rekenaarstelsel van die departement soms vir lang tye nie werk nie.
In die sitting is juis ook op die rekenaarstelsel gefokus. Die departement en die staat se inligtingstegnologie-agentskap (Sita) het ’n gesamentlike voorlegging gedoen oor planne om die probleme daarmee op te los. Volgens hulle word kroniese onderbrekings weens beurtkrag ondervind, sowel as ’n gebrek aan kragopwekkers by kantore, beperkte bandwydte, vandalisme en Sita se netwerk wat verouderde infrastruktuur soos koperverbindings gebruik.
Sita het nou R159 miljoen van ’n beoogde R400 miljoen oor ’n tydperk van vyf jaar bestee om sy kernnetwerk op te knap en wil ook ’n nuwe diensverskaffer aanstel om onderbrekings in die stelsel te beperk. Die departement beplan ook om kragopwekkers aan kantore te gee wat ’n diensverskaffer is en het 25 beheersentrums in werking gestel om onderbrekings te voorkom.
Ander planne om wagtye te verkort vorder ook. Volgens die departement is honderde nuwe werkers weens personeeltekorte aangestel. Die departement het meer as 100 reisende eenhede wat in die 2021-’22-boekjaar oor die 120 000 ID-aansoeke verwerk het.
Om ’n aanlyn afspraak te maak, besoek die webtuiste www.dha.gov.za en kliek op die BABS-ikoon, wat soos ’n kalender lyk.