Die herrie is behoorlik los oor bewerings van rassisme tydens die Springbokke se halfeindstryd teen die Engelse Rose.
Dít volg nadat die Engelse flank Tom Curry tydens Saterdagaand se halfeindstryd in Parys aan die skeidsregter, Ben O’Keeffe, gesê het Mbonambi het hom ’n “white c**t” genoem.
Maar dit is nie die eerste keer dat die Engelse die doodonskuldige Afrikaanse woord KANT misinterpreteer nie.
In 1995 het die oud-Springbok Schalk Burger snr. en die joernalis Fritz Joubert saam ’n boek geskryf met heerlik staaltjies van op die rugbyveld, ’n Sport vir Manne.
In een van die ware verhale, word die volgende vertel:
In die laat sestigerjare toer die span van die Vrystaatse Universiteit in Brittanje. Een van hul wedstryde is teen ’n Engelse klub buite Londen.
So halfpad deur die wedstryd besluit die flank en kaptein van die Shimlas hy en sy flankmaat moet omruil – hy wil aan die vaskopkant gaan druk en die ander flank moet na die loskopkant verskuif.
“Gaan skrum aan die ander kant,” is die kaptein se bevel aan sy spanmaat.
Blykbaar het die Vrystater of sleg gehoor of hy het nie begryp wat van hom verlang word nie. “Wat sê jy?” vra die spanmaat.
“Gaan skrum aan die ander KANT,” bulder die kaptein dit uit.
Hard en skril blaas die skeidsregter sy fluitjie. Hy kan uiteraard nie Afrikaans verstaan nie, maar hy het iets gehoor wat sy ore laat tuit.
“Get off, I’m sending you off,” beveel die verontwaardige fluitjieblaser.
“But what did I do wrong Sir?” vra die Vrystaatse kaptein.
“You called me a c**t and I won’t stand for that sort of thing,” was die antwoord.
En sedert die naweek se bewering teen Bongi, is selfs diegene wat voor dit nie aan die Springbokke se kant was nie, nou bankvas aan hulle kant.