Agt verdagtes is gistermiddag (Donderdag 10 Oktober) op ‘n plaas naby Klapmuts in hegtenis geneem nadat hulle in besit van gesteelde goedere van ‘n vragmotor wat vroeër die oggend gekaap is, gevind is.
Volgens Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, is die vragmotor omstreeks 04:00 naby die Kaapstad Internasionale Lughawe gekaap. Die vragmotor is deur middel van ‘n opsporingstoestel by ‘n plek in Bellville-Suid gevind sonder sy twee vraghouers. Met verdere ondersoek en die gebruik van opsporingstegnologie is ‘n klopjag deur die K9 honde-eenheid en lede van Kraaifontein-polisie op ‘n plaas in die Klapmuts-omgewing uitgevoer waar die gesteelde goedere – elektroniese toestelle ter waarde van sowat R2,6 miljoen – teruggevind is.
Die agt verdagtes het probeer om hulle teen arrestasie te verset maar is op die toneel in hegtenis geneem. Daar is ook op drie voertuie beslag gelê. Die omstandighede rondom die kaping word nog ondersoek. Die twee leë vraghouers is ook steeds soek. Die verdagtes sal Maandag (14 Oktober) in die hof verskyn.
Lees die volledige berig in Donderdag (17 Oktober) se Paarl Post.