Drakenstein-munisipaliteit se nuwe burgemeesterskomitee is Vrydag (31 Mei) aangewys.


Altesaam agt raadslede wat in die komitee van die uitgeskopte Drakensteinse burgemeester, Conrad Poole, gedien het, is Vrydag heraangestel toe Stephan Korabie, Drakenstein se eerste burger, sy burgemeesterskomitee aangekondig het.

Korabie is op 5 April as uitvoerende burgemeester verkies nadat Poole in Februarie deur ’n wantrouemosie verwyder is.

Poole se komitee het intussen waargeneem totdat Korabie Vrydag uiteindelik sy lang verwagte aankondiging gemaak het.

Hy het op ’n onlangse raadsvergadering gesê hy sal deur niemand gedruk of beïnvloed word tydens sy besluit nie.

“Soos ek vroeër genoem het – gee my net tyd om ’n burgemeesterskomitee te verkies wat Drakenstein verdien. Hierdie munisipaliteit en sy inwoners verdien net die beste – en ek het tyd nodig om vir hulle die beste te gee.

“Ek gaan dit nie sporadies doen nie en sal ook nie deur enigiemand gedruk word in my besluit nie. Ek sal mooi daaroor gaan dink en my kandidate na hierdie huis bring wanneer die tyd reg is,” het hy op die raadsvergadering gesê.

Die raadslede van Poole se komitee, wat nou ook in Korabie s’n gaan dien, is Rita Andreas, Avron Appollis, Johan Miller, Theuns Bester, Elizabeth Baron, Lorenzo Arendse, Lorraine Cyster en Laurichia van Niekerk.

Hul heraanstelling kan waarskynlik as omstrede bestempel word omdat Poole ondersoek is vir bewerings dat sy komitee skynbaar moes betaal het vir posisies.

Gert Combrink behou die posisie as adjunkburgemeester en is ook belas met finansies.

Moutie Richard, die ANC-leier in Drakenstein, het by navraag aan Paarl Post gesê: “Dit is basies dieselfde mense wat in die vorige burgemeester se komitee gedien het.

“Hulle is daarvan beskuldig dat hulle moes betaal vir daardie poste. So, hoekom dan nou weer dieselfde mense aanstel?

“Hulle is baie vinnig om die vinger na die ANC te wys oor sogenaamde kaderontplooiing, maar dit is presies wat hulle nou doen. Die burgemeester het nie sy eie diskresie gebruik nie. Hy het belowe dat niemand sy besluit sal beïnvloed nie en dat hy net die beste vir Drakenstein wil kies, maar nou sit ons dan met dieselfde mense. 

“Hy is deur sy party beveel om nie van hierdie mense ontslae te raak nie,” het Richards gesê.

Die GOOD-party in Drakenstein het die raadslede se heraanstelling bestempel as ’n “teleurstellende teken van wat om onder Korabie se leierskap te verwag”.

“Ná twee maande se beoordeling van CV’s en aansoeke het Korabie eenvoudig op dieselfde kaders besluit wat deur die voormalige burgemeester aangestel is.

“Inwoners het beter van die burgemeester verwag, gegewe sy oënskynlike verbintenis tot dienslewering en die aanpak van bedryfsuitdagings in die munisipaliteit,” het Keagen Gertse, GOOD se koukusleier in Drakenstein, in ’n verklaring gesê.

“Ongelukkig sal dinge nie verander deur dieselfde groep individue na verskillende portefeuljes te herverdeel nie. Ons het nuwe gesigte nodig gehad wat die taak gegee word om beleidimplementering vir die oorblywende twee jaar van die termyn te dryf,” het hy bygevoeg. 

Só lyk Korabie se burgemeesterskomitee

  • Gert Combrink: adjunkburgemeester en finansies
  • Derrick America: korporatief en regering
  • Rita Andreas: kommunikasie en interregeringsverhoudinge
  • Avron Appollis: openbare veiligheid
  • Anré Koegelenberg: elektrisiteit en paaie
  • Johan Miller: water en sanitasie
  • Theuns Bester: afvalbestuur
  • Elizabeth Baron: verstedeliking en menslike nedersettings
  • Lorenzo Arendse: maatskaplike ontwikkeling, sport en rekreasie
  • Lorraine Cyster: parke, oorde en begraafplase
  • Laurichia van Niekerk: beplanning, ekonomiese ontwikkeling en toerisme

You need to be Logged In to leave a comment.