Nie net het twee huisgesinne al hul aardse besittings vanoggend (Vrydag 14 Oktober) in ‘n brand in Vanwyksvlei, Wellington, verloor nie, maar so het ‘n moeder ook aar agtjarige seun in die verwoestende brand verloor.
Stephan Landsberg van Wellington Aksie Groep (WAG) het bevestig dat die brand vroegoggend by twee houtopslaanhuise in die agter erf van ‘n woning in Mooivleistraat ontstaan het.
“Die nooddienste was vinnig op die toneel, maar ongelukkig kon die seun nie gered word nie. Ons dink aan die familie in hierdie moeilike tyd,” het Landsberg aan Paarl Post gesê.
Hy vertel dat die slagoffers van die twee huise al hul besittings in die brand verloor het.
Volgens ‘n verklaring uitgereik deur Drakenstein-munisipaliteit was die brand om 05:45 aangemeld en die nooddienste het die brand om 06:10 onder beheer gebring.
“Die oorsaak van die brand is op hierdie stadium steeds onbekend en word ondersoek deur die polisie,” lui die verklaring.
Volgens ‘n inskrywing wat op die WAG-Facebookblad gedeel is, het sowat 10 mense al hul besittings verloor.
Wellington-polisie se stasiebevelvoerder kol. Johan Barkhuizen, sê dat ‘n geregtelike doodsondersoek sal volg om die oorsaak van die 8-jarige kind se dood te bepaal.
- A fire in Vanwyksvlei, Wellington, early on Friday morning left one eight year old child dead and two families without any belongings.