Die brandweerwa was teen 14:00 Vrydagmiddag (7 Maart) van die toneel af verwyder. Foto: Rasaad Adams


Drie brandbestryders en drie insittendes van ’n ligte vragmotor is beseer toe ’n brandweerwa van die Drakenstein-munisipaliteit Vrydagoggend net na nege in ’n ongeluk in die Bergrivier Boulevard in die Paarl betrokke was.

Die ongeluk het naby Rosendalstraat in die rigting van die Paarl Mall plaasgevind.

Kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe die brandweerwa in die Bergrivier Boulevard op ry en dan skielik omtuimel.

’n Ligte vragmotor is tydens die omtuimeling van die brandweerwa getref.

Drie van die ligte vragmotor se insittendes is vir beserings behandel, het die Drakenstein-munisipaliteit Vrydag by navraag gesê.

Volgens Wynand Els, bestuurder vir die afdelings brande, redding en rampbestuur by die munisipaliteit, was dit glo een van die hoof brandweerwaens.

Hy het gesê hulle was besig om op ’n noodoproep te reageer.

Paarl Post kon by nadere ondersoek vasstel dat die span onderweg was na ’n brand in die Suider-Paarl-gebied.

“Die brandbestryders word tans in die hospitaal behandel. Die insittendes van die ander voertuig wie beseer is, is ook vir behandeling na die hospitaal vervoer.”

Die brandweerwa was teen 14:00 Vrydagmiddag van die toneel af verwyder.

Tegniese spanne was teen daardie tyd besig om ’n lamppaal wat deur die wa getref is te herstel.

Die oorsaak van die ongeluk is in die stadium onbekend.

Volgens Els het die Paarl-polisie met ’n ondersoek begin.

You need to be Logged In to leave a comment.