'n Vyfde vermeende kabeldief is op die N1 naby die Hugenote-tonneel aangekeer. Foto: G24/Facebook
‘n Vyfde vermeende kabeldief is op die N1 naby die Hugenote-tonneel aangekeer. Foto: G24/Facebook

Altesaam vyf vermeende kabeldiewe is Dinsdag (14 Oktober) deur die Rawsonville-polisie in samewerking met provinsiale verkeersdienste en die G24- veiligheidsmaatskappy aangekeer nadat hulle glo Eskom-kabels by ‘n plaas in die Slanghoek-omgewing gesteel het.

Luidens ‘n verklaring deur G24 het sy beheerkamer Dinsdagoggend om seweuur ‘n oproep ontvang oor die diewe wat in daardie stadium met hul goue BMW nog op die toneel was.

“Ons taktiese eenheid is dadelik na die toneel gestuur en is op pad soontoe ingelig dat die verdagtes van die toneel af padgegee het.

“Een van G24 se taktiese voertuie het vinnig beweeg om die hoofuitgangsroete af te sluit in afwagting van die verdagtes se vlugrigting.

“Die BMW het toe teen die G24- taktiese voertuig gebots, waarna vyf verdagtes uit die voertuig gespring en te voet gevlug het terwyl hulle op ons beamptes geskiet het,” lui die verklaring.

Van die kabels wat Dinsdag gesteel is. Foto: G24/Facebook
Van die kabels wat Dinsdag gesteel is. Foto: G24/Facebook

Volgens G24 het sy veiligheidswagte, wat die verdagtes te voet agterna gesit het, vier van hulle aangekeer en aan die Rawsonville-polisie oorhandig.

Die vyfde verdagte is kort daarna op die N1 in samewerking met die polisie en provinsiale verkeersdienste aangekeer.

’n Plaasboer het glo die G24-beheerkamer gekontak en aangemeld dat iemand wat ooreenstem met die beskrywing van die vyfde verdagte in ’n Toyota geklim het wat in die rigting van die Hugenote-tonnel op die N1 beweeg het.

“Ons eenhede het onmiddellik na die gebied gereageer en provinsiale werkeersbeamptes, wat reeds langs die N1 geposisioneer was, in kennis gestel.

“By aankoms is die voertuig reeds deur beamptes van provinsiale verkeer voorgekeer, en G24-lede het die verdagte positief geïdentifiseer.

“Die verdagte is in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig vir verdere prosessering.

Die polisie fynkam Dinsdag die toneel by die plaas in Slanghoek. Foto: G24/Facebook
Die polisie fynkam Dinsdag die toneel by die plaas in Slanghoek. Foto: G24/Facebook

‘n Helikopter en hommeltuie is gebruik om na die vyfde verdagte te soek.

Navraag is aan die Rawsonville-polisie gerig, wie se kommentaar later bygevoeg sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.