Vrugtediefstal het verlede week ’n nuwe modus operandi opgelewer toe minstens 25 jong pruimbome op Salomonsvlei-plaas in Klein Drakenstein gesteel is.
Die boer en mede-eienaar, Phillip Malan (40), wat op dié plaas grootgeword het, sê die voorval was Woensdag in die nagtelike ure.
“Die diewe het die bome, wat ’n maand gelede geplant is, gesteel. Die boompies is nog klein en is tot knie-hoogte teruggesnoei, en ’n mens kan sien hulle is sommer net so uitgetrek. Daar is ’n baie skraal kans dat dié gesteelde boompies sal oorleef indien hulle elders oorgeplant sou word.”
’n Klagte van diefstal is by die Paarl-polisie aangemeld.
“Dit is ’n totale vermorsing,” sê Malan. Hy sit nou met ’n “haaslip-boord”.
Die 25 boompies is waarskynlik teen ’n totale verlies gesteel – selfs vir die boewe.
“Die ding van pruimbome is dit moet voor die seisoen bestel word om teen die regte tyd te plant. Ek kan dus nie dié jaar nóg bome bestel nie. Ek sal tot volgende jaar moet wag voordat ek nuwes kan bestel, aangesien hulle op ’n spesifieke tyd gedurende die seisoen geplant moet word.”
Malan sê dit raak die langtermyn- produksie van sy nuutgeplante boorde.
“Dit neem drie jaar voordat dié bome vrugte bot. Dit beteken die 25 bome wat opnuut geplant moet word, sal alewig ’n jaar agter wees.”
’n Projeksie van die inkomste van dié pruime toon minstens R7 500 se verliese per seisoen wanneer dié 25 bome binne drie jaar geoes sou word.
“ ’n Mens oes sowat 20 kg per boom, wat tans teen R15/kg verhandel. Vermenigvuldig dit met 25 bome.”
Hy sê boere in die gebied word oor die algemeen deur diefstal geteister.
“Alles wat die geringste waarde het, word weggedra. Ons gebruik in die vrugteseisoen wagte wat die boorde snags oppas. Van November tot Januarie gaan dit rof – soos ’n semi-oorlogsone.”
Hy het hierdie vlae diefstal al oor en oor beleef, maar weet die diewe is nie die gewone gemeenskapsmens wat swaarkry nie.
“Ek het ’n ooreenkoms met die mense wat swaarkry, en ek sal hulle aanbeveel om na die stoor te kom vir vrugte. Eerder dit as dat mense vrugte uit my boorde, wat vir die oorsese mark bedoel is, steel.”
Hy glo dit is ’n minderheid wat diefstal pleeg vir ’n paar rand se koper, byvoorbeeld, wat uiteindelik duisende rande se skade aan plaastoerusting veroorsaak.
“Dit is die tipiese tikkoppe. Die ouens wat steel, waag dit ook nie alleen nie. Hulle kom in groepe en is altyd gewapen. Die wagte word gereeld geslaan en aangeval.”
Salomonsvlei se kostes om wagte te dek, is tans R10 000 per maand. Die oorhoofse addisionele beveiligingskostes beloop sowat R80 000 per seisoen, wat ongeveer vier maande lank duur.
“Dit is hoekom so baie ouens nie meer hier rond wil boer nie. Dit maak net nie meer sin nie. Dis hoekom jy sal sien daar is so baie plase hier wat leegstaan,” sê hy en beduie na die buurplaas.
’n Video-opname wat op sosiale media sirkuleer, toon ’n onverwante voorval waarin ’n onbekende wingerdboer wys hoe tientalle wingerde op sy plaas beskadig is. Op die oog af is dit duidelik dat vier lanings van jong wingerde bloot in die helfte gesaag is, sonder dat enige van die beskadigde wingerde gesteel is.
“Hierdie is absolute moedswilligheid! Dit is hartverskeurend – elke liewe een van die wingerde gaan nou vrek,” sê die hartgebroke boer in die opname.


