Altesaam 21 vroue en ’n manlike bestuurder het hoofsaaklik kop-, nek- en rugbeserings opgedoen toe die ligte vragmotor waarop hulle was, omgeslaan het. Foto: Verskaf


Altesaam 21 vroue en ’n man is Maandag in die vroeë oggendure in ’n enkelvoertuig-ongeluk van ’n ligte vragmotor op die Wemmershoekpad (R301) beseer.

Volgens ’n nooddienswerker op die toneel is altesaam 22 plaaswerkers in die ongeluk naby Boschenmeer-landgoed beseer.

“Slegs een voertuig, ’n Kia- ligte vragmotor, was in die voorval betrokke. Die bestuurder het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor, waarna dit omgeslaan het. Die voertuig was taamlik oorlaai,” het hy aan Paarl Post gesê.

Die slagoffers het hoofsaaklik kop-, nek- en rugbeserings opgedoen.

Geen noodlottige beserings is aangemeld nie.

Talle nooddienswerkers het op die toneel gereageer. ’n Polisiebeampte op die toneel het gesê ’n saak van roekelose en nalatige bestuur sal deur die Paarl-polisie ondersoek word.

Kol. Z. Xela, die stasiebevelvoerder van die Paarl-polisie, het bevestig ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

“Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat die voertuig se linkeragterwiel gebars en daartoe gelei het dat die vragmotor omgeslaan en tot stilstand gekom het. Die voorval is om 06:45 aangemeld.”

Hy sê die passasiers is almal plaaswerkers van ’n bloubessie-plaas in Franschhoek.

“Die ondersoek duur voort en afhangend van die bevindings, sal die dossier na die direkteur van openbare vervolging verwys word.”

’n Hofdatum is nog nie vir die saak vasgestel nie.

  • 21 women and a male driver sustained various injuries early on Monday morning following a single-vehicle accident near Boschenmeer Farm entrance on the Wemmershoek Road (R301). According to a paramedic on the scene, it is alleged the driver of the vehicle lost control of the truck, possibly due to an overload of passengers. Paarl police will investigate a charge of reckless and negligent driving. No fatalities have been reported.

You need to be Logged In to leave a comment.