Die Suidoosterfees vier vanjaar ’n volle 21 jaar van vermaak. Om dié mylpaal ekstra spesiaal te maak, word ’n reeks van 21 teaterproduksies teen die kaartjieprys van slegs R21 aangebied.
Dié vertonings, wat elk 21 minute lank is, pronk met van die voorste kunstenaars en is van 26 April tot 1 Mei in die Kunstekaap-teater op die planke.
Toe die Suidoosterfees se stigters 21 jaar gelede hul doelwitte neergepen het, was bekostigbaarheid en toeganklikheid tot die kunste boaan die lys.
Die leuse – ’n Fees vir almal! – het toe ook beslag gekry.
Danksy borge en individuele ondersteuners se ruimhartigheid word daardie belofte vanjaar op dié spesiale manier nagekom, sê Jana Hattingh, die feeshoof.
Kunstenaars in verskillende genres is genader om deel van die 21-projek te wees.
Opera- en kontemporêre sangers, akteurs, dansers en komediante gaan op die verhoog wees.
Dean Smith se nimlike Aunty Bettie beland in Bettie innie selle in ’n aanhoudingsel tussen geharde misdadigers, maar met haar skerp tong kom die misdadigers sleg tweede.
Veronique Jephtas is te sien as Mavis vannie Lavis in Chronicles vannie Lavis, gebaseer op die skrywes van dié supergewilde en omstrede Facebook-persona.
Margit Meyer-Rödenbeck bring ook die beminde Dowwe Dolla se ouma na die verhoog. In Ouma weet deel die bejaarde haar wyshede, sommer ongevraagd, met die jonger geslag.
Liandé Valentyn en Gary Naidoo verskyn in Rajee & Fatgiyah se show, ’n komedie uit die hart van die Bo-Kaap.
Marianne Thamm, gesoute Daily Maverick-joernalis en komediant, inspireer gehore met lesse oor demokrasie in Speed politics for bewildered South Africans.
Musiekliefhebbers kan nader skuif vir Amanda Strydom: Piaf, waarin dié immergewilde sangeres sewe van Edith Piaf se bekendste liedere sing.
Die Kaapse koerant Son, wat vanjaar saam met die Suidoosterfees mondig word, bring Galaxy na die 21-verhoog met Nic Miso, William Jacobs en musikante van die legendariese Galaxy-klub.
Frazer Barry, Charlton Davids en Deniel Barry gee ’n satiriese blik op die manier waarop woorde in die wêreld betekenis kry. In Lipkap klik en klap die tonge behoorlik, onder meer in Khoekhoegowab.
In Ontban sing Corneil Müller en Lynelle Kenned liedjies wat voorheen verban was, terwyl This is home met Sima Mashazi en Ramon Alexander se musiek uit hul onderskeie grootword-wêrelde pronk.
Opera en klassieke musiek word in die 21-reeks uniek verpak.
. Besoek www.suidoosterfees.com vir die volle feesprogram. Skakel Artscape Box Office by 021 421 7695 of besoek Webtickets vir besprekings.