Terwyl baie jongmense veg om hul stem in vandag se samelewing te laat hoor, is Danielle Booysen van die Paarl besig om met ’n positiewe houding te veg om aan die lewe te bly terwyl haar jarelange stryd teen kanker voortduur.
Maar met die manier waarop sy die lewe aanpak, sal ’n mens nooit sê sy is eintlik baie siek nie.
Booysen was net vier jaar oud toe Hodgkins-limfoom by haar gediagnoseer is.
Volgens mayoclinic.com is Hodgkins-limfoom ’n soort kanker wat die limfstelsel aantas, wat deel is van die liggaam se kiembestrydende immuunstelsel.
Toe Booysen 12 jaar oud was, was haar kanker in remissie. Dit is ’n bewys van haar geloof, veggees en positiewe houding, want dokters het voorspel dat sy nooit haar 12de verjaarsdag sou beleef nie.
Vandag is dié oud-leerder van die Hoër Meisieskool La Rochelle 21 jaar oud en steeds vol lus vir die lewe, hoewel die kanker in 2019 teruggekom het. Nadat verskeie toetse gedoen is, het Booysen se dokters gesê haar hele liggaam is deurtrek met die kanker en sy het waarskynlik net ses maande oor om te lewe.
Dié fyn jongmeisie het egter besluit om positief te bly, hoewel dit nie die maklikste nuus vir haar familie was nie.
“Ek verkies om nie daarna te verwys as my kanker nie, maar eerder as die kanker. Dit was verpletterende nuus, maar positiwiteit het my nog altyd deur elke geveg gekry. Ek verkies om die glas as half vol te sien. Al is die stryd hoe moeilik, is daar altyd lig aan die einde wanneer jy verkies om daarna uit te sien. Negatiwiteit gee broeikans vir dood, en dit is iets wat ek lank reeds oorkom het.”
Booysen sê die kanker waarteen sy tans baklei, is in fase vier – dit is die hoogste en mees kritieke fase van die siekte. Sy het in Januarie vanjaar met chemoterapie begin, maar haar liggaam kon dit nie meer hanteer nie omdat sy as kind reeds baie chemoterapie gehad het.
Booysen sê haar dokters het so te sê hoop verloor en sy ontvang tans geen mediese behandeling nie.
“Daar is opdraandes en afdraandes, maar ek probeer elke dag die beste dag nog te maak. Dit klink soos ’n cliché, maar die lewe is kort en jy moet dankbaar wees vir elke dag wat jy het.
“Ek verkies om nie na die kanker te kyk nie, want ek weet God het my genees. Ek pak elke dag aan soos ’n normale mens. Daar is uitdagings, maar daar’s niks wat ek nie kan doen nie – al is dit voetjie vir voetjie; ek gaan daar uitkom.”
Volgens Booysen hou sy daarvan om modelwerk te doen. Sy dra ook met trots die titel van Miss Global Ambassador South Africa 2022. Hoewel sy vir eers haar modelwerk opsy gesit het, droom sy steeds daarvan om eendag as Mej Heelal gekroon te word – ongeag van haar lengte. Sy glo “dinamiet kom in klein pakkies”.
Booysen moedig die jeug aan om gefokus te bly op dit wat saakmaak – veral diegene wat omskakel van tiener wees na die grootmenslewe.
“Klaar onsekerheid op, stel vir jouself doelwitte en bestee tyd aan jouself. Wees lief vir jouself, want daar is net een jy. Face your fears and overcome them with strength, courage, confidence and poise. Soms wil ons as mens ons eie toekoms probeer bou en ons druk onsself só ver dat jou liggaam dit nie meer kan nou. Iets ruk jou tot stilstand en alles voel daarna verduister, maar daar is altyd ’n plan en dit is God se plan vir elkeen van ons se lewe.”
Booysen sê sy neem vanjaar ’n breek om te rus en op haar gesondheid te fokus, dus het sy vir eers haar studies ook opsy geskuif.
“Ek probeer om so veel as moontlik te rus, maar dit is moeilik omdat ek daaraan gewoond is om met die een of ander projek besig te wees.”
Verder gebruik sy die aftyd om agteroor te sit en jaar in ’n boek te verdiep, en Woensdae kan sy op Radio KC gehoor word, waar sy inligting oor die agtergrond van verskillende liedjies verskaf.