Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het altesaam 96 506 aansoeke vir die 2024-skooljaar betyds ontvang. Daar is nog kans tot 25 Mei vir ouers wie se kinders volgende jaar gr. 1 en gr. 8 moet begin, om aansoek te doen.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, sê enige aansoeke wat sedert die sluitingsdatum op 14 April ingedien is, word as ’n laat aansoek beskou. Sy sê skole sal eers kyk na die aansoeke wat betyds ontvang is voordat hulle die laat aansoeke sal oorweeg.
“Ouers wat gedurende die aansoektydperk (voor 14 April 2023) aansoek gedoen het, sal van 29 Mei die uitslag van hul aansoeke begin ontvang. Skole pas tans hul toelatingsbeleide toe op die aansoeke wat ontvang is en is bepaal om die uitkoms van elke kandidaat.”
Die departement sal van 29 Mei ouers in kennis stel of hul kinders aanvaar is by ’n skool of nie. Die verdere stappe wat daarna gevolg moet word, sal dan ook verduidelik word.
Ouers wie se kinders volgende jaar gr. 1 of gr. 8 moet begin, het nog kans om ’n laat aansoek aanlyn in te dien.
“Ouers kan steeds aansoeke op die aanlyn stelsel vaslê, maar dit sal as laat aansoeke gemerk word. Die sperdatum vir laat aansoeke is 25 Mei. Dit is noodsaaklik dat ouers nie uitstel om verder aansoek te doen nie. Dit sal die departementele beplanningsprosesse beïnvloed. Laat aansoeke kan lei tot vertragings in die plasing van u kind.”
Aansoeke moet aanlyn gedoen word deur die volgende webstuiste: https://wcedonline.westerncape.gov.za/admissions-202324