Die Grabouw-polisie in samewerking met polisiebeamptes in Franschhoek asook die Valke ondersoek twee afsonderlike voorvalle waarin ’n vroulike fietsryer en twee studente die afgelope week in die Franschhoekpas ontvoer en in Grabouw vrygelaat is nadat lospryse betaal is. Die fietsryer moes R50 000 opdok om vrygelaat te word.
Paarl Post het ’n boodskap bekom waarin die fietsryer sê sy is Donderdag (13 Junie) deur drie gewapende mans in ’n minibus-taxi ontvoer.
“Die gewapende mans het my om 17:20 van my fiets af gestamp, die fiets van die berg af gegooi en my in die taxi gegooi.
“Hulle het eers R100 000 gesoek. Hulle het tot in Grabouw gery en my die veld in gevat. Hulle het op die ou einde R50 000 uit my gekry nadat ek rond en bont probeer geld kry het. Ek het niks meer gehad nie,” het die fietsryer in haar boodskap verhaal.
“Hulle het my Goddank by die BP-garage in Grabouw vrygelaat – 20:15 die aand; ongedeerd,” het sy verder geskryf.
Volgens die fietsryer het sy ’n onmiddellike oorplasing gedoen.
“Hulle stel nie belang in fietse of sulke goed nie. Hulle soek geld – en baie. Hulle is kwaai en gee nie om of jy nie geld het nie. Hulle het my met ’n vuurwapen gedreig en belowe ek sal fine wees as hulle geld kry.”
Anelisiwe Manyana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het Saterdag (15 Junie) se voorval waarin die twee studente ontvoer is, by navraag aan Paarl Post bevestig.
“Ons kan bevestig dat die Grabouw-polisie ’n saak van roof en ontvoering ondersoek.
Volgens verslae was die klaers besig om Stellenbosch in hul motorvoertuig te verlaat toe hulle besluit het om langs die pad stil te hou.
“Terwyl hulle nog besig was met hul gesprek het ’n wit Quantum-bussie langs hulle gestop. Twee mans het uit die voertuig geklim en hul selfone en geld geëis. Hulle het beveel dat hulle uit die voertuig moes klim en vir hulle gesê om te loop totdat hulle by ’n huis aankom waar ’n man gewag het.”
Volgens Manyana het een van die verdagtes die studente beveel om hul ouers te kontak vir ’n losprys vir hul vrylating.
“Nadat die geld na die verdagtes se rekeninge oorgeplaas is, het hulle die klaers gevra om terug te gaan na hul voertuig, waarna hulle na die BP-vulstasie in Grabouw gery het. Die verdagtes het van die toneel af gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie,” het Manyana bygevoeg.
Paarl Post kon by nadere ondersoek bevestig dat die twee studente in Franschhoek woon.
“Wees asseblief versigtig. My dogter en haar vriend is gisteraand in die Franschhoekpas ontvoer. Die ontvoerders het ’n losprys geëis. My dogter en haar vriend is nou veilig en ongedeerd. Dit is nie meer veilig om in die pas te stop nie,” het ’n boodskap deur een van die studente se ma gelui.
Paarl Post het by ’n betroubare bron bevestig dat die Valke ook by die ondersoek betrek is. Die Valke het volgens die bron die twee studente se voertuig by die Grabouw-polisiekantoor gaan haal en in Franschhoek aan hulle terugbesorg.
Dit is in dié stadium onduidelik of die twee voorvalle met mekaar verband hou en of dit dieselfde verdagtes is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Intussen het die Franschhoek-belastingbetalersvereniging ’n beroep op inwoners gedoen om waaksaam te wees in die pas.
Die vereniging het inwoners aangemoedig om die volgende wenke te volg:
- Moenie alleen fietsry of stap nie;.
- Moenie die pas gedurende dagbreek of skemer-ure gebruik wanneer aktiwiteit in die pas minder is nie;
- Neem jou selfoon saam;
- Verwittig ’n vriend of familielid van jou reis en verwagte terugkeertyd;
- Moenie in afgeleë gebiede parkeer nie, want mense sal jou teiken; moet dus glad nie ’n teiken van jouself maak nie;
- Wees te alle tye waaksaam, want opportuniste is oral en sal enige kans aangryp wat hulle kry;
- As jy enigiets verdag sien, stel onmiddellik die owerhede in kennis.
Die Franschhoek-polisiekantoor kan by 021 876 8061 en die Villiersdorp-polisie by 028 840 8001 geskakel word.