Die Drakenstein-munisipaliteit se hoofgebou in die Paarl. Foto: Rasaad Adams


Twee senior amptenare in die Drakenstein-munisipaliteit se afdeling vir gemeenskapsdienste is onlangs geskors.

Een se skorsing hou verband met ’n amptenaar wat glo op ’n geleentheid in die Suid-Kaap dronk geraak en blykbaar “die munisipaliteit se naam in oneer gebring het”.

Hoewel die munisipaliteit nie by navraag die identiteit van die twee amptenare bevestig het nie, het Paarl Post vertroulik verneem dat dit Gerald Esau, die uitvoerende direkteur vir gemeenskaps­dienste, en Ernest Saayman, die senior bestuurder vir parke, sport en begraafplase is.

Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir korporatiewe dienste, het aan Paarl Post gesê “een senior amptenaar is tans geskors en ’n ander moet redes verskaf vir hoekom hy nie geskors moet word nie”.

Hy het gesê die ondersoek hou verband met oortredings van die gedragskode vir amptenare, “insluitend om die Drakenstein-munisipaliteit se naam in oneer te bring”.

’n Betroubare bron by die munisipaliteit het vandeesweek aan Paarl Post gesê Esau het glo ’n werksessie by ’n munisipaliteit in die Tuinroete bygewoon. Dit is hier waar hy glo gekuier en homself na bewering wangedra het.

Dit is in hierdie stadium nie duidelik of Esau en Saayman se skorsings met mekaar verband hou nie.

“Die voortgesette ondersoek sal bepaal of die bewerings verband hou en hierdie proses kan lei tot tugverhore,” het Johaar vandeesweek gesê.

Dit is juis Saayman wat in November verlede jaar ’n grief ingedien het teen Johan Leibbrandt, die munisipale bestuurder, waarin hy Leibbrandt van onder meer afdreiging, magsmisbruik en rassisme beskuldig.

Volgens Saayman het Leibbrandt op ’n diensleweringsvergadering op 6 September sy karakter aangeval.

Leibbrandt het hom glo op die vergadering gevra of sy “donnerse ligte” aan is.

“Dit voel asof ek hierdie brief in die 1980’s tik. My karakter is aangeval en versmoor in die teenwoordigheid van die uitvoerende burgemeester, lede van die burgemeesterskomitee, ander senior kollegas en junior personeel. Ek is nie die geleentheid gegun om my insae te lewer oor die stand van dienslewering deur die munisipaliteit nie,” het ’n brief deur Saayman in November verlede jaar gelui.

Dié grief het op ’n dringende geslote raadsvergadering van 30 November verlede jaar gedien, waartydens die Speaker beslis het dat dit ’n arbeidskwessie is wat nie deur die raad op ’n verhoor kan dien nie. Die grief word sedertdien beskou as “afgehandel”, luidens ’n brief deur Conrad Poole, voormalige uitvoerende burgemeester, waarin hy aan raadslede sê dat Saayman die grief onttrek het.

Saayman kon nie vandeesweek telefonies bereik word om te sê of hy beplan om die skorsing teen te staan nie.

Terwyl die munisipaliteit homself vir die tugverhoor van dié twee amptenare voorberei, sit hy steeds sonder ’n uitvoerende burgemeester nadat Conrad Poole op 28 Februarie deur ’n wantrouemosie verwyder is.

’n Raadsvergadering om ’n nuwe burgemeester te verkies, was vir 13 Maart beplan, maar is uitgestel tot verdere kennisgewing.

Volgens die Onafhanklike Verkiesings­kommissie (OVK) se riglyne vir die vul van kritieke poste soos dié van ’n uitvoerende burgemeester, moet die raad binne 21 sy volgende kandidaat aan die OVK bekend maak.

You need to be Logged In to leave a comment.