Die Fenomenale Vroue-wenners is, van links, Zenani Mithi, Denise Stubbs by Michael Jonas (direkteur Afrikaanse Taalmuseum en -monument en Historium) en dr. Elna von Schlicht (burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit), sowel as Jesika Jonas, Marizaan Bredenkamp, Valerie Fernandez, Valerie Botha en Adele Kitshoff. Foto:


Na aanleiding van die sukses van die eerste Fenomenale Vroue van die Kaapse Wynland-distrik-pryse verlede jaar, het die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), in samewerking met die Historium Trust en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), weer eens aan 16 fenomenale vroue van die gemeenskap hulde gebring.

Die prysuitdeling is Woensdag 23 Augustus in die Paarl gehou, waartydens die nege wenners en sewe naaswenners aangekondig is en die merkwaardige prestasies van hierdie wonderlike vroue gevier is.

In haar hooftoespraak het die uitvoerende burgemeester, dr. Elna von Schlicht, gesê dit is vir haar ’n ongelooflike plesier om die fenomenale vroue van die Kaapse Wynland-distrik-wenners, asook die uitstaande naaswenners, hartlik geluk te wens.

“U merkwaardige prestasies en bydraes het ons gemeenskap opgehelder en ons almal geïnspireer om beter te doen. Hierdie toekenning is nie alleen ’n erkenning van u individuele suksesse nie, maar plaas ook klem op die kollektiewe krag van vroue wat aanhou om hindernisse af te breek en te herdefinieer wat in ons gemeenskappe moontlik is,” het Von Schlicht gesê.

“U verhale dien as ’n baken van hoop en bemagtiging vir toekomstige geslagte, en herinner ons dat daar geen perke is aan wat ons kan bereik nie. Ons bring ere aan u en u prestasies, en mag u aanhou om helder te skyn en diegene rondom u te inspireer. U reis getuig van hoe fenomenaal u is.”

Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, het in sy openingstoespraak gesê nasionale Vrouedag in Suid-Afrika word hoog geag en dien as ’n herinnering aan die groot bydrae van vroue in Suid-Afrika.

Dié dag is volgens Jonas terselfdertyd ’n geleentheid om opnuut te besin oor die regte van vroue.

“Die rol van vroue in die samelewing is van kardinale belang. Hulle lewer merkwaardige bydraes tot gemeenskappe, families en die samelewing in sy geheel. Vroue is die ruggraat van gesinne en gemeenskappe,” het Jones gesê.

“Dit is waarom dit vir ons belangrik is om vroue in ons gemeenskappe op hierdie skaal op te hef en te vier. Baie geluk aan al die wenners en naaswenners.”

Fenomenale Vroue in die verskeie afdelings:

. Landbou – Denise Stubbs, Pniël;

. Vroeëkinderontwikkeling – Jesika Jones, Vlottenburg, Stellenbosch;

. Basiese onderwys – Anelma Johnson, Ashbury, Langeberg;

. NRO-/GOW-sektor – Zenani Mithi, Khayamandi, Stellenbosch;

. Entrepreneur – Adele Kitshoff, Worcester;

. Ondersteuning – Marizaan Bredenkamp, Wellington;

. Bestuur – Janine Myburgh, Pniël, Stellenbosch;

. Passie – Valerie Fernandez, Cloetesville; en

. Bevordering van Afrikaans – Veronica Botha, Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.