Die 16 dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders is ’n jaarlikse veldtog met ’n edele doel: om bewustheid te skep en verandering teweeg te bring. Tog is die skokkende misdaadstatistieke wat onlangs bekend gemaak is ’n pynlike herinnering dat hierdie veldtog nie genoeg is om die epidemie van geweld teen die kwesbaarste in ons samelewing te stuit nie.
In die Wes-Kaap alleen is 96 kinders tussen Julie en September vanjaar vermoor – 36 meer as in dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is meer as een kind per dag wat sy of haar lewe verloor weens geweld. Landwyd is 315 kinders in hierdie drie maande vermoor. Die moordsyfer vir vroue in die Wes-Kaap het ook gestyg, van 124 in 2023 tot 132 in dieselfde tydperk vanjaar.
Hierdie ontstellende syfers bevestig wat ons reeds weet: geweld teen vroue en kinders is nie ’n kwessie van 16 dae nie, maar ’n daaglikse werklikheid wat stelselmatig aangepak moet word. ’n Samelewing wat sy vroue en kinders faal, het sy morele kompas verloor.
Regeringsorganisasies en gemeenskapsleiers moet hulle beywer vir langdurige, volhoubare programme wat gerig is op die voorkoming van geweld, die ondersteuning van slagoffers, en die oplos van die oorsake van geweld. Dit is tyd dat ons nie net bewusmaking skep nie, maar daadwerklik verandering bring – elke dag van die jaar.