1 dood ná minstens 200 informele strukture in Wellington brand

‘Hartseer Sondag vir ons mense’. Dit is hoe Avron Appollis, die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid Sondagoggend die situasie by ‘n informele nedersetting in Wellington beskryf het te midde […]


‘Hartseer Sondag vir ons mense’.

Dit is hoe Avron Appollis, die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid Sondagoggend die situasie by ‘n informele nedersetting in Wellington beskryf het te midde van ‘n brand wat 200 strukture vernietig en die lewe van ‘n vrou geëis het.

Minstens 200 strukture is in ‘n brand by die New Rest-Egoli -informele nedersetting in Wellington vernietig. Foto: Drakenstein-munisipaliteit

Die brand het omstreeks 00:30 in die oggendure van Sondag (6 April) by die New Rest-Egoli -informele nedersetting uitgebreek, en is eers teen 05:00 geblus.

Luidens ‘n verklaring deur die Drakenstein-munisipaliteit was sy branddienste binne enkele minute op die toneel.

“Die branddienste van Stellenbosch-munisipaliteit is geaktiveer en het sowat 30 minute later opgedaag. Altesaam vyf pompwaens en drie veldbrandvoertuie was op die toneel.

“Ten spyte van ’n huilende suidoosterwind het die brandbestryders die brand omstreeks 05:00 vanoggend geblus en is hulle tans besig om die laaste brandpunte te blus.

“Die munisipaliteit betuig sy innige meegevoel aan die familie van die vrou wat oorlede is.”

Die munisipaliteit het sy teleurstelling uitgespreek oor lede van die gemeenskap wat glo probeer het om ’n brandweerman van Stellenbosch te steek en brandweerwaens se pype gesny het.

Volgens die munisipaliteit moes hy die hulp van die polisiediens inroep om brandbestryders te beskerm en hulle in staat te stel om hul werk te doen.

Die brand was aangehits deur sterk wind wat Sondagoggend is die gebied ervaar is. Video: DFW/Facebook

Appollis en ander munisipale amptenare was Sondagoggend op die toneel.

“Hartseer Sondag vir ons mense,” het ‘n Facebook-inskrywing deur Appollis gelui.

Rampverligting word tans gekoördineer vir die geraakte inwoners.

Die munisipaliteit het nie aangedui presies hoeveel mense dakloos gelaat is nie.

Intussen het die Drakenstein-plaaswag gesê hy bly voortaan geskok deur ‘n bevel deur die munisipaliteit se nuwe brandweerhoof dat geen hulp meer van die plaaswag se vrywillige branddienste aanvaar sal word as dit kom by brande in die Drakenstein munisipale gebiede nie.

Daan van Leeuwen Boomkamp, die plaaswag se bevelvoerder, het in ‘n verklaring gesê die nadraai van Sondag se brand kon anders wees indien die plaaswag ook toegelaat was om te reageer.

Die munisipaliteit het vandeesweek in ‘n lang Facebook-inskrywing redes gegee vir sy besluit om alle ooreenkomste met die plaaswag te stop.

Lees meer oor die onlangse wending in dié twee se verhoudig in hierdie week se Paarl Post.

You need to be Logged In to leave a comment.